Standard verower bankprys

25 Oktober, 2003

Die kantoor van die bankberegter het onlangs vir die derde keer die bank aangewys wat die afgelope jaar die beste presteer het in dispuutbeheer.

Standard Bank is as vanjaar se wenner aangewys nadat Absa verlede jaar met die prys weggestap het en die NBS in 2001.

Die wenbank is aangewys deur 'n opname wat deur Markinor gedoen is om die gehalte van meganismes vir dispuuthantering deur die vier groot banke te evalueer. Markinor het vir die opname omtrent 1600 klieënte wat die afgelope ses maande by hul banke gekla het, gebel om te hoor hoe tevrede hulle was met die afhandeling van hul klagtes.

As die algehele wenner het Standard Bank die beste telling gehad vir verbruikersbevrediging wat die afhandeling van klagtes betref.

Volgens die kantoor van die bankberegter raak die toekenning jaarliks al hoe gewilder, al was dit net die vier groot banke wat vanjaar vir die toekenning in aanmerking gekom het.

"Die toekenning is besig om die manier waarop banke sake doen, te verander," het adv. Neville Melville, die bankberegter, gesê. "'n Jaar gelede het een in ses mense waarmee onderhoude gevoer is, volgens Markinor rede gehad om oor hul banke te kla. Die verhouding is vanjaar een in nege mense. Die totaal vir die kategorieë van mense wat 'n bietjie, baie en absoluut tevrede is, het gestyg van 63% in 2001 tot 91% vanjaar."

Volgens Melville lyk dit asof daar 'n regstreekse verband is tussen 'n klieënt se bevredigingsvlak met die manier waarop sy klagte gehanteer is en die klieënt se toekomstige lojaliteit teenoor sy bank. Hy meen dit is 'n belangrike les vir banke en ander maatskappye.

"Die navorsing het duidelik gewys dat banke wat klagtes vinnig en doeltreffend oplos en waar min mense in die hantering van die klagte betrokke is, die klieënt meer geneig is om lojaal te bly. Ondanks hul prestasie, moet banke egter kennis neem dat 30% van hul klieënte vasgevang voel omdat daar soveel struikelblokke is as hulle na ander banke wil verskuif."

Naas die groot prys wat Standard Bank gewen het, het Nedbank twee pryse gewen vir die bank wat die beste gevaar het om mense bewus te maak van die kantoor van die beregter en die gedragskode vir banke.

Mnr. Les Barrett van Standard Bank het ook twee pryse gewen vir die bankamptenaar wat uitgeblink het in klagtehantering.