OBS los klagte oor banke in 71 dae op

10 Februarie, 2005 - Die Burger

KAAPSTAD - Die Ombudsman vir Bankedienste (ODS) sê die rekordgetal van 306 nuwe klagtes wat hy verlede maand ontvang het kan deels toegeskryf word aan die feit dat sy kantoor tussen Kersfees en Nuwejaar gesluit was en dat banke daadwerklike pogings aangewend het om die OBS se dienste aan hul kliënte bekend te stel.
Mnr. Neville Melville, bankombudsman, sê in 'n verklaring oor vordering met die oplos van klagtes dat sy span reeds na aan die bereiking van twee doelwittes is wat hy vir hom gestel het en dat hy 'n derde een reeds verbygesteek het.

Melville sê die OBS het daarin geslaag om 96% van sy klagtes binne ses maande nadat dit onvangs is, af te handel. Die gemiddelde tyd wat dit neem om 'n klagte op te los in 71 dae en die doelwit is 70 dae. Die OBS het sy teiken om 60% van die dispute binne 60 dae af te handel verbysteek en 70% daarvan is afgehandel.

Volgens Melville moet die syfers in perspektief gesien word: dit moet vergelyk word met die tyd wat dit sou neem om dispute deur die gewone hofstelsel op te los en die OBS bied 'n altenatief vir die howe.

Hy sê met 'n naam soos Ombudsman vir Bankdienste, is daar druk op sy kantoor om daad by die woord te voeg: Ons moet fokus op gehaltediens en spoed - wat noodsaaklik is vir die doeltreffende oplossing van probleme, veral as mens dink aan die impak wan finansiële dispute op die lewens van mense."

Luidens navorsing van 'n onafhanklike marknavorsingsgroep Markinor, wat in Oktober verlede jaar uitgevoer is, was 44% van bankkliënte bewus van die kantoor van die ombudsman.