Meer gegriefde kliënte kan nou gehlep word7 Maart 2004 - Beeld Die kantoor van die bankberegter, adv. Neville Melville, gaan sy naam verander in die ombudsman van bankdienste. Terselfdertyd is die omvang van dienste wat aan bankkliënte gebied word, uitgebrei. Tot onlangs toe kon sy kantoor net klein maatskappye met 'n omset van minder as R3 miljoen help. Dit word nou vergroot tot R5 miljoen. Die waarde van griewe wat gehanteer kan word, word van R500 000 tot R800 000 vergroot.Melville het gesé die vorige verwysingsraamwerk vir sy kantoor is in 2000 opgestel. Sedertdien het die ekonomie heelwat uitgebrei en het die waarde van geld verander. "Een van die belangrikste redes vir die naamsverandering is dat die publiek die term beregter met 'n streng regsproses vereenselwig. Ons wil juis hiervan wegbeweeg en voortaan die klem veel sterker plaas op bemiddeling." Die vernaamste handelsbanke finansier die funksionering van sy kantoor, maar volgens Melville word onafhanklikheid en onpartydigheid voorop gestel. Die klem bly daarop om sake op te los voordat 'n formele ondersoek nodig is of die reg daarby betrek word. "Ons verwag dat die nuwe reëlings daartoe kan bydra dat ouer klagtes na vore kom." Van die nuwe reëlings is dat bankkliënte wat nie tevrede is met die hantering van sy of haar klagte nie, nou ook die ombudsman kan versoek om 'n bindende uitspraak te lewer. 'n versoek kan ook aan 'n afgetrede regter gerig word om dit te hersien. Die nuwe direksie bestaan vir die eerste keer uit vier onafhanklike direkteure onder voorsitterskap van adv. John Myberg. Hulle is dr. N. Motlatla van Unisa, mev. Ina Wilken, voorsitter van Sancu, mnr. Helm van Zijl, ombudsman vir korttermyn-versekering, en me. Thandi Orleyn, voormalige uitvoeredende hoof van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Die banke word in die direksie verteenwoordiger deur mnr. Bob Tucker, uitvoerende hoof van die bankraad, me Venete Klein, hoofbestuurder van agri-sake van Absa, en mnr. Viv Bartlett, adjunkuitvoerende hoof van FirstRandBank. Bankkliënte kan die tolvrye nommer 0860 800 900 skakel.
|