Bank-klagtes neem toe

7 Februarie 2005 - die Burger

'n Rekordgetal klagtes is in Januarie deur die Ombudsman vir Bankedienste ontvang van mense wat probleme met hul banke en bankdienste ondervind het. Volgens mnr. Neville Melville, die ombudsman, is 306 nuwe sake in die' maand ontvang.

Hy skryf dit toe aan groter bewustheid onder klante oor die ombudsman asook dat sy kantoor tussen Kersfees en Nuwe jaar gesluit was. In Oktober verlede jaar het 'n opname deur die marknavorsers Markinor reeds gewys dat 44% van alle bankklante van die nuwe ombudsmandiens weet.

Die ombudsman, wat voorheen as die kantoor van die bankberegter bekendgestaan het, het sy naam verlede jaar verander. Melville sê vordering is ook gemaak met die bereiking van die teikens wat gestel is. Die bankombudsman het 'n maand gelede aangekondig dat maatstawwe in die bereiking van teikens in werking gestel is.

Die ombudsman het reeds 96% van die sake wat geopen is, binne ses maande afgehandel. Die gemiddelde tyd wat dit duur om 'n saak af te handel is 71 dae. Die teiken is 70 dae. Melville he gesê dié tydperk moet vergelyk word met die tyd wat die duur om 'n dispuut met 'n bank in die hof op te los. Die ombudsman is reeds 'n alternatief daarvoor.