| Wees
op jou hoede by kitsbanke dié feestyd, maan banke
4 Desember 2004 - Die Burger
Die Ombudsman vir
Bankdienste waarsku verbruikers om op hul hoede te wees in die feestyd
wanneer hul kitsbanke, krediet- en debietkaarte gebruik.
Verlede jaar was 20% van al die klagtes wat die ombudsman hanteer het
oor kitsbanke. Die ombudsman verwag dat dieselfde hoeveelheid klagtes
hierdie jaar ook hieroor ingedien sal word.
Klagtes oor krediet- en debietkaarte was 8% van totale klagtes verlede
jaar. Daar is egter die moontlikheid dat die getal kan toeneem as verbruikers
nie versigtig is nie.
"Banke se waaksaamheid
om kliënte in te lig om versigtig te wees wanneer bankkaarte gebruik
word, is aanmoedigend," het adv. Neville Melville, Ombudsman vir
Bankdienste gesê. "Maar kliënte word steeds gekul uit
groot bedrae kontant. Bonusse word dié tyd van die jaar betaal
en mense word die teikens van hul uitgeslape skelms," het hy vertel.
Die Ombudsman is ook bekommerd
oor die onlangse bekendstelling van die Mzansi-rekening en die impak wat
dit op klagtes oor kitsbanke mag hê. Veral omdat dié tipe
rekening op mense gemik is wat voorheen nie van kitsbanke gebruik gemaak
het nie.
"Dit is fantasties dat
so baie rekeninge daagliks geopen word. Dit sal interessant wees om te
sien hoe baie mense het nog nooit 'n kitsbank gebruik nie. Klagtes kan
egter ook toeneem wanneer die nuwe kliënte nie versigtig is en goed
ingelig word deur 'n bank oor wat om te doen en wat nie gedoen moet word
nie."
Hoe om 'n klagte te lê:
Kliënte wat klagtes het oor 'n kitsbank, krediet- of debietkaart
moet eerstens 'n klagte by die bank wat betrokke is gaan lê en dié
bank genoeg tyd gee - ongeveer 20 dae - om dit op te volg. Indien die
klagte nie binne dié tydperk hanteer word nie, kan die ombudsman
om hulp genader word.
"Ons sal vanuit 'n onafhanklikeperspektief
na die klagte kyk maar mense moet gewaarsku wees dat hulle verantwoordelik
sal wees vir alle verliese sou ons ondersoek bewys dat die klaer gepoog
het om die bank te bedrieg," het Melville gewaarsku.
Kitsbank-wenke:
Moet nooit dat iemand naby jou staan of jou help as jy die kitsbank
gebruik nie.
Sleutel slegs jou pin-nommer in wanneer die kitsbank-skerm dit van jou
vra.
Kitsbank-misdadigers is gewoonlik vriendelik en goed geklee.
Bly weg van 'n kitsbank wat nie jou kaart maklik die eerste poging
wil aanvaar nie.
Gebruik slegs kitsbanke wat in 'n veilige en goed beligte gebied is.
As jou kaart, vir watter rede ookal, deur die kitsbank teruggehou word,
rapporteer dit onmiddellik.
Die kitsbank-bedrieër gebruik vinnige tegnieke om jou kaart van
jou te kry (sonder dat jy dit sal agterkom) en mag poog om jou te oorreed
dat jou kaart wel in die kitsbank is terwyl hy / sy (of hulle) kyk hoe
jy jou pin insleutel.
Maak seker dat jou daaglikse kitsbank-ontrekkingslimiet ooreenstem
met jou behoeftes en die risiko wat jy kan en wil neem.
Laat alleenlik toe dat jou kaart in winkels en banke deur herkenbare
toerusting gesleep word. Hou ook jou kaart die hele tyd dop. Moenie jou
kaart sleep indien jy nie 'n spesifieke transaksie daarmee wil laat uitvoer
nie.
Wenke vir krediet / debietkaarte:
Beskou kredietkaarte as kontant;
sorg dat jy altyd weet waar dit is.
Jou handteken moet agter op jou kredietkaart wees.
Gaan jou state gereeld na. Jy het slegs 'n beperkte tyd waarin 'n dispuut
oor 'n bedrog-transaksie aangemeld kan word. Laat die bank skriftelik
weet as jy verhuis, selfs al is dit tydelik.
Rapporteer 'n verlore kaart onmiddellik by die bank.
Moenie op jou handtekening staat maak om jou te beskerm teen bedrog nie
- dit kan maklik nageboots word.
|